Bedieninge

Mannebediening

Vroeg in die koue tref jy hulle aan. Die manne van men@6. Ons mannebediening kom elke Vrydagoggend om sesuur by die kerk bymekaar. Ons drink koffie, eet beskuit, praat saam en bid saam. Verder is daar elke kwar taal `n mannedag by die kerk. Daar word aan die werk gespring om reg te maak, te installeer, te verf en algemene onderhoud op ons gemeentekampus te doen. Daarna word daar heerlik gebraai en gekuier. Die mannebediening trek die manne van ons gemeente bymekaar vir vriendskap en broederskap.


Vrouebediening

Elkeen wat op `n Sondagoggend vir die eerste keer by Nuwe Lewe Montagu instap word vriendelik en gasvry ontvang. Daar word heerlik in die saal gekuier rondom koffie en tee, en so vorm `n gesellige en vriendelike atmosfeer jou eerste indruk. Hiervoor moet ons ons vrouebediening bedank. Selfs in die vakansies en oor lang naweke kan ons heerlik tussen die dienste saamkuier. Verder is die Vrouebediening daar om die vroue van ons gemeente saam te trek in vriendskap en samesyn.


Abigail Bediening

Hierdie bediening doen pragtige werk binne en buite ons gemeente. Hulle kom ontmoet weekliks vir `n vrouebiduur. Verder hanteer hulle besoekerskaartjies, geskenkies vir nuwe besoekers, `n pragtige boekwinkel, en liefdevolle uitreike na die ouetehuis en ander plekke.


Kleingroepe

Die gemeente het verskillende kleingroepe wat weekliks in `n kleiner kring bymekaarkom om saam te aanbid, rondom die Woord te gesels, te kuier, en te besin oor die praktiese uitwerking van ons geloofslewe. Indien jy by so `n kleingroep betrokke wil raak, kontak ons gerus.


Transformasie

Die transformasiebediening fokus op sending en evangelisasie en hou ons op hoogte van alle verwikkelinge met ons sendelinge in die veld. Hierdie bediening doen baanbrekerswerk om die impak van ons gemeente op `n relevante manier in die gemeenskap voelbaar te maak deur uitreike en betrokkenheid.


Sondag-Crèche

Dit is deel van ons gemeente se roeping om elke generasie te bedien. Hierdie besondere span vroue en tienermeisies bedien elke Sondagoggend ons kleintjies (voorskoolse kindertjies vanaf ses weke tot 5 jaar) met groot verantwoordelikheid en liefde. Op hierdie manier word ons jongste kinders tydens die eredienste bedien terwyl Mamma met `n geruste hart die diens kan bywoon.


NL3 Qlub – Ons Kinderkerk

Tydens die lofprysing beweeg ons Laerskoolkinders na hul eie klasruimtes vir lesse, take en pret. Selfs in die vakansies en oor lang naweke is die kinderkerk oop. Die kleiner kinders het hulle eie tafels en stoeltjies waar hulle inkleur, knip en plak – en so op hulle eie vlak oor die dinge van die Here leer. Bring gerus jou kind saam op `n Sondagoggend.


Nuwe Lewe Tieners

Vrydagaande om 18:30 is daar `n heerlike tienerbyeenkoms. Hoërskool studente kom bymekaar vir saamkuier, saamgesels rondom die Woord en beslis ook vir pret en ontspanning. Tieners is welkom om saam te kom lag, gesels, droom en leer oor Jesus. Ons jaarlikse 5 dag jeugkamp by die Proteaplaas is ook `n treffer en wonderlike bande word elke Oktobermaand daar gesmee.


Jong Volwassenes

Alhoewel die jong volwassenes eintlik `n kleingroep is, moet hierdie bediening effens uitgelig word. Elke Sondagaand kom ons jong volwassenes by die kerk bymekaar vir `n tyd van samesyn en geestelike verdieping. Sodra jy klaar is met skool, hoort jy in hierdie groepie totdat jy self `n karretjie vol kinders het waarmee jy na die jong ouers groepie kan aanskuif.


Nuweleweland Akademie vir Babas en Kleuters

Nuweleweland is 'n kleuterskool wat gerig is op kinders tussen 3 maande en 5 jaar. Hierdie dagsorg maak gebruik van die Leer en Leef program www.leerenleef.co.za wat vir ons klein mensies op elke vlak die regte aktiwiteite aanbied. So kan hulle speel-speel leer en die regte stimulasie ontvang om skoolgereed te word. By Nuweleweland staan ons Christelike en Bybelse waardes sentraal. Vir meer inligting kontak gerus ons prinsipaal, Juffrou Maraleze Bosman, by 023 100 0049 of 072 011 8415.



Nasorgsentrum

Die Nuwe Lewe Studentesentrum bied op weeksmiddae `n nasorgprogram vir kinders van gr R tot matriek. Leerders kom van die skool af na ons kerksaal toe, ontvang `n warm middagete, en word dan in tot vyfuur in hul huiswerk en studies begelei. Indien jy meer hieroor wil uitvind, kontak gerus vir Tina Verreynne by 076 287 4415.